Wednesday, March 27, 2013

DOEN DIE NEDERIGE WERK

"'n Oppersaal.  Aand.  Twaalf manne, net soos hulle van die straat ingekom het, wag op die maaltyd.  Moeg, honger, vuil.  Wat hulle nou kort, is 'n slaaf wat met 'n skottel water van die een na die ander gaan en voete was.  Maar daar is nie een nie.  Dan maak die Rabbi 'n handdoek om hom vas en doen juis dit:  Hy gaan van een paar stowwerige voete na die volgende en was hulle. 

 'n Ongemaklike swye, totdat een protesteer...

'n Mens mis die sin van wat hier gebeur as jy net van beskeidenheid en saaklikheid praat.  In hierdie enkele, sigbare teken verbeeld Christus sy hele aardse lewe:  een met gesag, buigend voor hulle wat afhanklik is en bedreig word. 

Die Grote voor die Kleine.

Dis steeds die model vir die mens:  wat dwaas lyk, wat vloek teen alle gevoel vir rang en selfagting, moet gedoen word ter wille van die vrede wat dit bring.  Vrede onder die mense begin nie waar een die mag het om die stryd te smoor nie, maar daar waar een van sy eer afsien.  Hoe vollediger hy dit regkry, des te groter sal die vrede wees wat van hom uitgaan."

Jorg Zink se nadenke oor Jesus wat "laag neerbuig" (uit "Pad na die Gebed") is dalk ons enigste gedagtes wat ons in hierdie Paastyd hoef te koester:  "Die Grote voor die kleine".

Die eerste tree, Here,
loop ek agter U aan
en kyk wat U doen.

U het nie mag gesoek nie,
nie rykdom
of byval nie.
U is die gestalte van 'n nederige,
misverstaan en verag.
Hulle het oor U die kop geskud,
hulle het agter die hand oor U gepraat.
Hulle meen U is gevaarlik...
en U doodgemaak.

My eer, Here,
is die kiem van die tweedrag
tussen my en die mense.
My trots is die kiem van haat.
Maar u kniel voor my met U handdoek om U lyf...

Ek is nog maar aan die begin,
nog besig met die eerste tree.
Nou reeds vrees ek vir my reputasie
dat ek verag mag word.
Neem my hierdie tree met U saam
dat ek deur U vry leef.

Here, U buig U voor my.
Ek buig
voor die geheimenis van u pad

Friday, March 15, 2013

PAASFEES: GEREEDMAAK VIR DIE REIS

Ek wonder in hierdie tyd dikwels oor Pase.  Dalk verstaan ons nie Paasfees as ons nie die Pasga-storie altyd saam daarmee lees nie.  Nie Pasga as “die fees  van die lam” nie, maar eerder Pasga as die “gereedmaak vir die reis die woestyn in”.  Dit tref my toe ek saam met die bybelstudiegroep gister die gedeelte lees in Eksodus oor die voorbereiding vir Pasga.  Vir sewe dae lank moet hulle ongesuurde brood eet.  Asof die “gestrooptheid van dieët” met die ongerysde brood nie genoeg is nie, moet hulle die hele nag – ter voorbereiding van die Pasga – nie slaap nie (“vas van rus”?)  Die gebraaide lam, wat saam met die ongesuurde brood en bitter kruie geëet moet word, moet “haastig geëet word, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand.  Dit is die paasfees van die Here” (Eks 12:11).

Ek verwonder my hoe ons christene van Paasfees ‘n ander tipe fees gaan maak het as die oorspronklike “Fees van Eenvoud”.  Vir die Jode was dit die begin van ‘n intog in die woestyn.  Die woestyn as gestrooptheid.  Dus, die “Fees van Stroping”!  Jy los alles wat jou kan verhinder agter, en jy gaan, sonder bagasie, op die Nuwe Reis. Onbekendheid tegemoet.

Ek wonder waar het die moderne mens haar hunkering na eenvoud verloor?  Want dit lyk asof dit nog altyd deel van menswees was.  Om die waarheid te sê, ek het dit selfs in die Dhammapada (die Boeddhistiese wysheidsteks) raakgelees:  
Let us live most happily, possessing nothing, let us feed on joy, like
 the radiant gods”. 

Alle godsdienste – nie net die christelike geloof nie - vier eenvoud! 

Waar het ons die pad byster geraak?  Ons mense van vandag?  Ons vier verslawing (...ons noem dit net nie verslawing nie!) 

Dan weet ek dat my eie soeke na eenvoud ook my vergrootglas is op die manier hoe ek my eie lewe inrig!

Friday, March 8, 2013

NADENKE AS 'N GELOOFSGEWOONTE

Dit is toe nie Die Heilige Ignatius van Lyola se woorde nie.  Nou toe nou.  Dis toe al die tyd Sokrates se wysheid.  Of was dit nou Plato wat Sokrates se wysheid aangehaal het...  En toe later Ignatius wat Sokrates (of Plato) aangehaal het...  Ek besef net, mag dit 'n wysheid word wat so ingeoefen word in my eie lewe, dat dit "my" wysheid word.  "'n Lewe wat nie in nadenke geleef word nie, is nie die moeite werd om geleef te word nie".

Daar is verskeie variasies op hierdie tema... "Die mens wat die verlede vergeet, is gedoem om die verlede te herhaal". 

Ek kan begryp waarom Ignatius sy mede-geloofsreisigers aangemoedig het om hulle lewens te bedink.  Hoe sal 'n mens God in die lewe raaksien, as jy nie God-in-jou-lewe bedink nie?  As ek die Bybel reg verstaan, lyk dit asof Jesus juis mense wou herinner dat die Godheid op ander plekke sigbaar gaan wees as waar ons dit vanselfsprekend sou verwag (gaan lees maar Matt 25).  Ek begryp ook waarom die Psalmdigter bid, "weerhou my van 'n nuttelose lewe; laat my leef op die weg wat U aanwys" (Ps 119:37).  Dan moet ek myself tog afvra, hoe gaan ek weet of my lewe geleef word "op die weg wat U aanwys"; as ek "Die Weg" nie bedink nie?

Woorde soos "peins" ... "bedink" ... "mediteer" ... is selde in die woordeskat van haastige mense!  "Stilword" en "tot bedaring kom" is selde 'n aktiwiteit hoog op die aktiwiteitslys van besige mense.   Ek besef skielik hoe belangrik die woord "onthou" in die Bybel is.  As jy "terugdink" gaan jy kan "onthou". "Terugdink" en "nuutdink" is waarskynlik in Bybelse terme sinonieme.  'n Terugblik gee nuwe perspektief.

Daar is beslis ook 'n verskil tussen "nadenke" en "verknogtheid".  Ignatius (en sekerlik Sokrates ook) sou daarmee saamstem.  Nadenke vir Ignatius was nie om vas te hou aan die verlede nie.  Nadenke, as 'n geloofsgewoonte, is om die verlede te bedink as 'n sleutel om vandag anders te kan leef.

Daar is nog 3 weke oor voor Pase.  Hierdie 3 weke is vir my "nadink"-tyd.  In hierdie 3 weke wil ek 3 vrae inoefen:  die "Gods-vraag" (waar sien ek God in my lewe?); die "Self"-vraag (hoe het God my bedoel om te wees?) en die "skeppings-vraag" (waarom is ek nou, op hierdie spesifieke tyd van my lewe, op hierdie spesifieke plek, tussen hierdie spesifieke mense rondom my?)

Lydenstyd is "nadink"-tyd.  Of dit nou Sokrates was wat die wysheid uitgedink het, en of dit Ignatius is wat 'n paar eeue later mense weer daaraan herinner het, dit is om't ewe.  Die vraag is of dit my geloofswysheid gaan word!