Wednesday, August 28, 2013

DRIE MANIERE VAN KYK

Op verskeie maniere kruis die metafoor "om God te sien" my pad die laaste ruk herhaaldelik. Ek sal siender-blind wees as ek dit nie raaksien nie! Is dit moontlik om die "Onsienlike" te sien? Moses het die behoefte om tog net vir God te kan sien. Elia ook. Job het! ("Vroeer het ek van God gehoor, nou het ek gesien...) Johannes meen weer in een van sy briewe, "Niemand het God nog ooit gesien nie". Tog is daar die belofte van die "Sigbare Verborge" wat ontbloot sal word: "as ons mekaar liefhet ... dan sal ons 'sien'...".

Ek lees ... toevallig ... 'n gebed raak: "Wys my wat ek miskyk, Here".
Ek verstom my ... so terloops raakgelees ... aan 'n aanhaling van Simone Weil, "Om aandag te gee is die skaarste en suiwerste vorm van vrygewigheid". (Ek soek "om aandag te gee" op in die woordeboeke: om ag te slaan; om te sien).
Heel uit die bloute vra 'n Joernalis-vriend dat ek 'n paar woorde vir hom op papier sit oor die mistieke. "Die Mistieke is niks anders as 'n manier van kyk nie", begin ek.

Om die Onsigbare te sien! Evelyn Underhill (die eerste vroue teoloog wat by Oxford Universiteit klasgegee het) skryf dat die mistikus bloot iemand is wat ander mense help om anders na die gewone te kyk.

Erens in my geheue bank het ek ... heel terloops ... die inligting van die Fransiskaanse teoloog, Richard Rohr, gestoor; hy wat vertel dat in 'n klooster in Parys 2 monnike in die Middeleeue geleef het wat so oor "sien" geskryf het. Volgens hulle is daar drie maniere van kyk. Almal het 'n "Oog van die Vleeslike Liggaam"- daardie oog waarmee jy die alledaagse, sigbare realiteite rondom jou raaksien. Almal het "Die Oog van Rede". Nadat jy met jou eerste oog gekyk het, help jou tweede oog jou om 'n raps dieper te kyk (dieesdae noem ons dit "dink"). Dit is die vermoe om te kan reflekteer oor wat jy sien. Verrassend genoeg is dit toe nie die oosterse mense wat eiendomsreg op 'n "Derde Oog" het nie. In die Middeleeue het christenmonnikke al gereken daar is ook 'n derde manier van kyk. Dit is 'n raaksien, deuskant begrip en verduidelikings; doeriekant verby analitiese vaardighede en akademiese kennis. Dit noem hulle "Die Oog van Verwondering". Dis om in die donker te kan sien. Dis om "ag te slaan". Dis om jou volle "aandag" te gee. Daar waar jy prysgee wat jy (dink jy)weet, omdat jy weet dat jy eintlik niks weet nie.

Dalk is dit wat die blinde bedelaar bedoel het met "Rabboeni, dat ek kan sien!" Gee my nie net die Oog van die Vlees of die Oog van die Rede nie; maar gee my Die Oog van Verwondering.

Of sou ek bloot bid, "Here, wys my wat kyk ek mis".

Of sou ek soos Simone Weil myself wil herinner: "om my volle aandag te gee aan wat ek om my (nie) sien (nie), is die beste wat ek het om te kan gee"

Tuesday, August 20, 2013

Lectio Divina: 'n ritme in stadige maatslag

Vroegoggend lees ek 'n pleit raak: "Here, leer my om anders oor tyd te dink". Ek weet nie wat die konteks was van die persoon se versugting nie, ek weet wel dat ek my met die gebed kan versoen. "Leer my anders oor tyd dink". Waarskynlik omdat tyd vir ons iets is wat meetbaar is (- dit kan verbygaan; dit kan gemors word; dit kos geld; dit kan nie herroep word nie, want dit vlieg; daar is altyd te min...) is ons lewens ingerig volgens ons horlosies.

Vir die interessantheid het ek so bietjie gaan nalees oor die geskiedenis van horlosies. Eintlik praat ons natuurlik verkeerd, eers was daar tydaanduiders - of dit nou sonwysers was; waterwysers wat min of meer die lengte van 'n uur kon aandui soos 'n sand-uurglas; alles te danke aan die Egiptenare, Babiloniers en selfs die Chinese se intellek.... Dan was daar klokke. Stede het 'n klok gekry wat werkstyd en etenstye aandui. Om te dink dat die priesters in die Middeleeuse kloosters 'n aanddeel gehad het aan die regulering van "klokke". Geloofsgemeenskappe wat saam gebly het, het 'n alarmsisteem nodig gehad, want 8 keer per dag moes daar gebid word. Deur die dag kon 'n mens dalk nog met jou gesig na die son leef ... maar om 3 uur in die oggend op te staan, het 'n mens 'n alarm nodig. Die klok moet geslaan word! (Daarom is die woord wat ons vir tyd gebruik dieselfde as "lui die klok").

Een van die rykhede van Lectio Divina - vir my ten minste - is dat die Heilige Lees nie aan tyd gebonde is nie. Daar is niks wat ek moet "klaarkry" nie. Ek jaag nie om 'n teksgedeelte te lees nie. Ek jaag nie teen 'n "Bybel in een jaar" nie. Ek lees en bedink; lees weer en praat; lees weer en skryf neer; lees weer en bid; lees weer ...". Gister het ek dalk die enkele vers of paragraaf in 'n bekende Bybelvertaling gelees, vandag verras 'n onbekende vertaling my dalk van voor af. So hou ek aan totdat ek seker is dat ek die rykdom van die teks "eet" ... en dit deel van my selle word. Ek is ... omdat ek gevoed is.

Lees ek ter wille van inligtingversameling, noem ons dit "verslind". Vinnig. Nog. 'n Inligtingsvraat. Lees ek ter wille van verandering, noem ek dit "rondrol op my tong". Ek koester die luuksheid van die smaak. Ek probeer so lank moontlik die smaak in my mond vasgevang hou ... te bang dit gaan te vinnig verlore. Die heerlikheid word in al my sintuie gevier; lank nadat ek gesluk het onthou ek nog die ervaring.

Is die heilige lees van 'n heilige teks nie bedoel om heiligmakend te wees nie... Niks kan die proses aanjaag nie.

Monday, August 12, 2013

Lectio Divina: Proe, Ruik, Vervulling

Nog altyd het mense 'n behoefte gehad om met God "kontak te maak". Vroeg in Genesis (Hf 11)lees ons van mense wat 'n stad met 'n toring wou bou, "waarvan die punt tot in die hemel reik". Waarom so 'n lawwe idee? Want dit is waar God sou wees. As hulle by God kan uitkom, dan is hulle gewis mense van wie ons maar kan kennis neem! Daarom begin hulle bou ... en bou en bou... Dan is daar die tong-in-die-kies vertelling waar God toe maar liefs "afgekom het" (want hoe hoog sou so toring nou moes wees?)

'n Ander storie van God wat "afkom" ken ons goed! Jakob rus die nag met sy kop op 'n klip (...enige mens sal dan seker erge drome droom...). Juis toe ook so! In die droom sien hy 'n leer, stewig geplant op die aarde, waarvan die punt die hemel aanraak. Energieke engele woer op en af op die sparre van die leer. Die volgende oomblik staan God by Jakob. Weereens God wat "afgekom" het.

Ons het seker nog nooit ophou droom van "raak aan God" nie! Erens lees ek in hierdie tyd dat een ruimtereisiger - na 'n wentelvlug in die hemelruim - rapporteer het, "Nee, ek het toe nie vir God gesien nie".

(Dalk is die soeke na God nie daarbo nie, maar hier onder? Hier op die grond?)

In die jaar 1150 nC het 'n monnik, Guigo die 2de, in die tuin gewerk in die klooster in Frankryk waar hy gebly het. So aan't wortels en boontjies plant en kontempleer oordie gedeelte uit Gen 28:11-19 (gaan lees dit gerus), gaan daar skielik 'n liggie in Vader Guigo se kop aan! Natuurlik, dis hoe hy sy medebroers en susters moet leer. gebed is soos Jakob se leer. Die eerste treetjie word hier "op aarde" geneem, hier waar die leer vasgeplant is. Hierdie eerste treetjie noem hy toe "Lectio" (lees). Om God aan te raak (... of dalk anders om: God wat ons aanraak) begin by 'n heel "gewone" plek. Luister hoe beskryf iemand "Die 4-sport Leer" van Guigo:

"There are only a few distinct steps, but the distance covered is beyond measure and belief since the lower part is fixed on the earth and its top passes through the clouds to lay bare the secrets of heaven"

Stap 1 ("Lees) is gewis die belangrikste tree. (Leer ons juis nie vir mense die reis begin by die eerste tree nie?)Die probleem is dat die meeste van ons by Stap 1 bly! Wat van sportjie 2? Wat van "Meditatio"? As jy net lees (en dit gewoonlik selfs nog vinnig doen) ... en nooit nadink daaroor nie (...al is dit dan tussen die boontjies en die wortels) ... hoe gaan jy ooit "boontoe"? Ja, dalk is ons darem al by die 2de trappie. Maar dit lyk dalk so hoog boontoe? Dit voel dalk soos harde werk? Dit vra baie tyd!

Tog, so skryf Guigo, as jy begin by God se openbaring hier op aarde, en aanhou klim, op met die trappe van nadink; op met die trappe van gebed ("Oratio") en aanhou ... dan gebeur iets wonderlik met jou. "Die hemel gaan oop". Of dalk is dit wat Jakob ontdek: "God kom af!" En nou verstaan 'n mens dalk sy 4de trappie die beste: "Contemplatio". Of ons sou dit seker bloot kon noem: VERWONDERING! Die oopmond staan en ... Wel, jy staan maar net. Jy weet nie watter woorde is groot genoeg nie. Jy besef jy het nie woorde nie. Nou is net stilbly die regte reaksie.

Om te lees is om te soek. Om na te dink is om te verstaan. Om te bid is om te vra. Om in verwondering by God te staan, is om te voel.

Of soos Vader Guido dit verduidelik het: Lectio is die eerste hap in jou mond; Meditatio is om te kou totdat alles verteerbaar word; Oratio bring die smaak na vorige en Contemplatio is die versadiging.

Friday, August 2, 2013

Uitblinkers van geloofsdissiplines ... of uitvoerders danksy geloofsdissiplines

Vanoggend was ‘n oggend vol drama! Hoe “bestuur” ‘n mens uiters bekommerde familielede se vrees as ‘n familielid dreig met selfmoord? Erger nog, as daar die subtiele boodskappe van gesinsuitwissing is? Dan spring ‘n mens in “auto pilot”-modus: die regte kanale moet gevolg word; spesialis-maatskaplike werkers word ingetrek; sielkundiges, ens. Na talle telefoonoproepe en opvolg-eposse, met jou koppie tee lankal yskoud langs jou, sit jy terug in die leunstoel en wonder: is dit nou ‘n storm in ‘n teekoppie, of is dit die seismograwe se waarskuwing van ‘n aankomende tsunami? Hoe weet jy? Bid dan maar vir die teekoppie-storm en berei voor asof vir ‘n tsunami. Dan broei my eie issigrimmigheid nog ook (… synde belydenis ook ‘n geloofsdissipline is…) – hier moet ek nou krisispastoraat doen (terwyl ek kon prekmaak) … en dit vir mense wat nie eers deel van die geloofsgemeenskap is nie. Waar kom hulle vandaan? Hoekom land dit altyd in mý mandjie…

In my agterkop (dis nou terwyl ek my issigrimmigheid so halfpad troetel) herinner my geheue my aan ‘n sin wat ek onlangs gelees het: “nooit mag iets – enige iets - in die plek van liefde staan nie”. My agenda van die oggend kan nie belangriker wees as om iemand in nood te ondersteun nie. My ou ego’tjie moet ek maar bestuur … ook dit kan nie in die pad van hulp staan nie! Dis my les van die dag! Of dit ‘n teekoppiestorm is, of ‘n tsunami-ramp is … daaroor het ek nie beheer nie … ek het beheer oor my ingesteldheid en my bereidwilligheid om te versorg.

En daarmee daag ek jou uit, bedink bietjie die week wat verby is, selfs insidente wat sinloos (of soos tydmors) gevoel het: wat van jouself moet jy maar eerlik in die gesig kyk (die bybel noem dit ‘bely’)? Waar kan jy God se hand duidelik raaksien? Waar het jy dalk ‘n kans gemis om God raak te sien? Net so belangrik: Waar was jy vir iemand God se hand?

Die doel van geloofsoefeninge is nie om uitblinkers te word in die beoefening van stilte en afsondering; eenvoud en bybellees; gebed en regula’s nie … dit is om al meer te groei in die gestalte van Jesus in. Die doel van spirituele dissiplines is om – soos Eugene Peterson dit noem – “rythms of grace” te skep … juis sodat jy ‘n medewerker word van heelheid: in jouself … in ander … en veral ook vìr ander.

Monday, July 29, 2013

Lig Leef - 'n geloofsdissipline oppad na 'n nuwe seisoen

Een maal 'n jaar het ek 'n "DERTIG DAE PROJEK". Die 1ste Augustus breek dit aan. Geen rede waarom juis nou nie. Bloot gebeur dit eenmaal per jaar; en toevallig is dit nou so goeie tyd soos enige ander tyd. En as ek aan ons Formatio-groep dink, is dit dalk die "perfekte" tyd: wintertyd is nogal opgaartyd (al is dit die ekstra rolletjie om die lyf omdat vroegoggend-opstaan net te uitdagend is).

Ek en 'n goeie vriend het 'n paar jaar gelede met die projek begin. Intussen het dit gegroei na 'n handvol vriende. (Waarskynlik omdat ons weet as ons dit op ons eentjie moet doen, stop 'n mens maklik, die oomblik as jy by Dag 15 kom en jou weggee nou nie meer so "gerieflik" is nie.)

Die vraag waaroor dit eintlik gaan, is ons behoefte om "Lig te Leef". Die proses van skoonmaak word meer 'n "binnereiniging". Dit word 'n herwaardering van wat my waardesisteem is. Waarom besit ek wat ek het? Watter van my besittings besit my?

Dit gaan veel meer oor "wakkerword" vir dit waarvan ek 'n gevangene is...

Soms is dit ‘n pynlike oefening om jouself af te vra, wat is jy bereid om vandag weg te gee? As jy rustig deur jou huis sou stap, na elke item te kyk, vra jouself af,

• Waarvan sal jy regtig maklik ontslae kan raak? Hoekom sal jy maklik daarvan kan afskeid neem? Het dit iets met die waarde van die artikel te make? Dalk die maklike vervangbaarheid daarvan? Het dit te make daaraan dat jy geen emosionele waarde daaraan het nie? Ja, daar is inderdaad goed waarvan ons maklik ontslae kan raak, die vraag is hoekom? Wat is dit? Hoekom is jy nie daaraan ‘gebind’ nie.

• Waarvan sal jy regtig moeilik ontslae kan raak? Wees eerlik in hierdie oefening. Is dit omdat daar ‘n “storie” saam met die besitting gekom het? Troetel jy ‘n stuk geskiedenis? Hoeveel van jou ego is gekoppel aan daardie besitting van jou? Wat sal met jou gebeur as iemand daardie besitting van jou breek, of steel? Verbeel jou net vir ‘n oomblik dat jy kies om daardie besitting van jou vandag aan iemand te gee, aan wie sal dit wees? Waarom kies jy daardie persoon? Kan dit wees dat jy dan nogsteeds beheer oor die besitting sou kon hê, op grond van jou keuse wie die nuwe eienaar moes wees?

Dis vir my nodig om myself daaraan te herinner dat niks wat ek besit werklik "myne" is nie. Ek neem dus net so veel van van my eie gierigheid-om-te-besit afskeid, as wat ek die dissipline van vrygewigheid inoefen.

Hoe werk dit? Dit is juis 'n inoefening van 'n Regula om te kies wat vir my belangrik is. Nee, ek kan myself ongelukkig nie mislei deur elke dag ‘n boek weg te gee nie (gewis het ek meer as 30 boeke waarvan ek elke dag, stuk-stuk, sou kon weggee, en dan sou ek steeds te veel gehad het). Maar dit was nie so maklik nie! Ons het onsself met bepaalde riglyne beperk: een dag was ‘n dag vir klere weggee; eendag boeke; een dag linne, eendag kombuisartikels, ensovoorts. In die begin was dit maklik ... later het dit al swaarder begin word. Ons het ook met mekaar gesels oor waarom ons op ‘n dag ‘n bepaalde keuse vir iets gemaak het, gelyktydig omdat dit soms gehelp het met die afskeid neem van iets wat vir ons waardevol was, maar soms as ‘n aanmoediging om mekaar aan te moedig om nie “kop uit te trek” nie.

• Deesdae, wanneer ek iets koop, moet ek iets anders in die plek daarvan uit my huis uitneem. Ek is ‘n bibliofiel! Ek het eendag besef dat ek of nuwe boekrakke gaan moet aankoop, of ek gaan boeke moet aangee vir ander. Nou het ek ‘n enkele boekrak in my studeerkamer. Daardie is my boekrak, niks meer nie! Dit impliseer dat ek vrygewig moet raak met wat ek besit, want my boekrak kan nie meer dra as tans nie....

So werk dit in my huis met die aanskaf van klere ... iets kom in die hande van ‘n ander, as iets nuuts gekoop word.

En ek kan nou aan geen beter tyd dink as in hierdie laaste wintermaand om my Dertig Dae Projek aan te pak nie. Dit is die beste tyd vir 'n ritme van Lig Leef in te oefen, voor 'n nuwe seisoen begin.

Thursday, July 11, 2013

MY KAGGEL - MY GEBED

Richard Forster skryf in sy boek, "Prayer" die volgende paragraaf:

"Let me describe my grateful center to you. I was seven years old, and my parents were trying to move to the West Coast. Our relative poverty, however, caught up with us, and we were forced to winter in the cabin of an uncle in the Rocky Mountains. The time was difficult for my parents, I am sure, but for me it was glory. . . .

My most vivid memory is of the fireplace. (I had never been around a fireplace before, all our heat heretofore having come from the coal furnace in our Nebraska home.) Every night I would pull out the bed that hid in the couch by day and climb under the heavy quilts, my head less than ten feet away from the crackling warmth. Night after night I would fall asleep, watching this strange yellow blaze that warmed us all. I was in my grateful center."

Terwyl ek die woorde hier oortik, sit ek by my eie kaggel wat brand. Dit is nie net met die druk van 'n knoppie dat hierdie vlamme gloei nie. Dit vra meer as genoeg energie van my om 'n kaggel "te bou". Waarskynlik die keuse om hier voor die kaggel te kom sit en nie sommer direk tv-kamer toe te stap nie. Dit beteken dat ek gemaklik moet wees met stilgeselskap ipv luidspreker-geselskap.

Dit beteken dat ek die vuur moet versorg. Los ek dit, brand die vuur uit. Ek kies bietjie antrasiet saam met die hardehout, want ek weet my vuur brand langer. Maar ek is meer as bewus van die feit dat hierdie hout en die swart kole deur veel meer hande gegaan het as net myne. Mense is by hierdie proses betrokke, selfs al ken ek hulle nie. Dit maak dat ek - die oomblik as ek hierdie natuur-en-mens-proses begryp - hierdie "gaste" in my huis wil verwelkom. Hulle wat sakkies hout langs die pad verkoop ... om vanaand self hul hande by my vuur warm te maak. Ek verwelkom jou in my huis! Ek verwelkom jou gesin in my huis ... al weet ek nie waar maak hulle hulself vanaand warm nie. Erens het mense petrol in die trokkie gegooi om die hout in die stad te kom aflewer. Ek verwelkom jou, petroljoggie, as gaste in my huis! Ek verwelkom jou gesin in my huis.

Ek swaai my deure wyd oop vir hulle wat soos gloeiende kole my hart warm hou en my lewe versorg. Sommige van hulle noem ek vriende. Familie. Geliefdes. Maar ek verwelkom ook hulle wat vir my bid, sonder dat ek hulle selfs goed ken. "Kom sit saam", roep ek, "julle verdien my kaggelaand ... dis vir julle ook gepak".


So sou ek met my kaggel wat brand meer as genoeg metafore kan uitdink wat vir my simbole word van - soos Forster dit noem - "my grateful center".

Wednesday, July 10, 2013

KAGGELSPIRITUALITEIT

Winter, in my eie lewe, is die tyd van stilword, na-dink, bestekopneem.  Dis die seisoen waar ek gekonfronteer word met ou gewoontes wat dalk afgelê moet word.  Dis om eerlik na myself te kyk en my broosheid ook te troetel.  Dis die seisoen waar ek rustig raak, stilte en afsondering vier; met nuwe oë na my eie wêreld se doodsheid wil kyk … sodat met die aanbreek van die lente ek weet  watter nuwe koers ek dalk wil inslaan.
Wintertyd is ook simbolies die tyd wat ‘n mens eerlik na die winterseisoen van jou geloofslewe kan kyk.  ‘n Gelowige wat erns maak met geloofsverdieping, en wat ‘n behoefte het om ‘n volwasse geloofslewe te versorg, weet ook dat in ‘n verhouding met God, net soos in ‘n verhouding met ander mense, daar dinge is wat ‘n mens eerlik moet erken.  Groei kom deur snoeiprosessie; deur belydenis; deur selfontdekking.  Groei kom ook deur pyn:  soms die pyn van teleurstelling, eensaamheid, hartseer van verlies.
Natuurlik is alles rakende wintermaande nie sleg nie.  Dis ook die tyd waar ‘n mens knus teenaan iemand wil lepellê.  Daarom is wintermaande juis die tyd wat ‘n mens die intieme saamdans doen, nie net ek met my Eerlike Self nie, maar ook met ander … en met God … wil omhels. 
Op geen manier kan ‘n wintergeloof ‘n uitsluitende geloof wees nie … al wil ons onsself afsonder voor ‘n kaggel .  Die pyn van die wêreld is ook my pyn.  Ek mag my nie isoleer daarvan nie.  Daarom moet die wintergeloof ons ook dwing om te kyk na die gevare van ‘n “private” spiritualiteit.  Dit daag ons uit om ‘n geloofslewe te koester waar dit nie net om myne of ons s’n gaan nie, maar om die “ander” deel van daardie ons te maak.
***************
Die volgende paar inskrywings hier by Formatio wil ek so bietjie saamdink oor ‘n “wintergeloof”:  hoe lyk ‘n gestroopte bestaan, waar jou lewe soos die kaal take teen die blou lug afgeëts is?  Hoe leef ‘n mens ‘n lewe sonder skanse voor God, soos wat die winterbome sonder die skanse van hul blare leef?  Hoe leef ek ‘n lewe waar daar ruimte vir onsekerheid is, soos ‘n ysige kouefront ‘n mens soms ook kan laat voel?  Dalk is dit die vrae waaroor jy saam met my wil dink…

  ***************
‘n Herinnering:  ons volgende Formatiobyeenkoms, is Maandagaand, 15 Julie, 19:00 – 21:00, in FGK se (opgewarmde) konferensielokaal.

Wednesday, May 1, 2013

DRAAI OOK NA BINNE...

DIE DOEL VAN HIERDIE NAWEEK is baie eenvoudig:  om - te midde van jou gewone, alledaagse, besige bestaan, omring deur klanke en mense - ongeag jou naweekprogram,  jou bewustelik op God se teenwoordigheid in te stel sodat elke aktiwiteit ‘n heilige reis saam met God word. 

OEFEN JOUSELF IN HÍÉR WEES.  Jy sal weet hoe maklik ‘n mens met ‘n aktiwiteit besig kan wees, terwyl jou aandag op ‘n ander plek is.  Heeltemal “afwesig in die oomblik”.  Hierdie naweek is ‘n inoefening om aanwesig te wees - elke oomblik. 

Tuesday, April 30, 2013

Dankbaarheid: Om die volle sirkel te vlieg

Ons sluit vandag ons Aprilmaand-nadenke oor 'n Lewe van Oorvloedige Dankbaarheid af.  Dankbaarheid beteken nie 'n sleutel tot "goedgaan nie".  Dit beteken bloot wat dit impliseer:  om hierdie oomblik, ongeag wat die oomblik aanbied, met 'n dankbaarheid te leef.  Tevrede dat dit nou die oomblik is vir wat in my lewe ook al aan die gang is. 

Dankbaarheid is die inoefening om met "'n oop hart" te kan leef.  Om nie my hart geslote te hou vir sekere situasies waarvan ek nie hou nie, of sekere emosies wat ek sou verkies om te vermy nie.  Dankbaarheid - of die lewe met 'n Oop Hart, impliseer dat ek toelaat dat wat die lewe my aanbied, vir my goed is ... juis omdat dit nie nou anders is nie.

Alle godsdienste is 'n "saak van die hart".  Dit is die raaksien van God wat ‘n raaksien van jou medemens stimuleer (en andersom).  Dit gebeur – soos die Profete leer – “wanneer die hardheid van die hart versag”.  David Steindl-Rast skryf:  Elke keer as ons oor die hart praat, praat ons oor die hele mens.  Die hart dui die ‘ten diepste’ aan.  Die hart dui die kern van ons menswees aan.  Dit is in die ‘ten diepste’ waar ons leer om ‘openhartig’ te leef”.  

Wat sou dit vir jou om “open-hart-ig “ te leef?

Wat sou dit van jou vra om "met 'n oop hart" die lewe vandag te ontvang, presies soos wat die lewe vir jou aangebied is?

Terwyl ek oor David Steindl-Rast gesels, kyk gerus hier na 'n gesprek met hom oor openheid en dankbaarheid vir die oomblik waarin jy leef.  Dit is uit sy gesprek dat ek besef, "dankbaarheid is om die volle sirkel te vlieg"...



Thursday, April 18, 2013

WANNEER DIE OORROMPELING NIE GEKEER KAN WORD NIE

Die bekende digter Roger Housden haal in sy boek oor die gedigte van ou geloofsvaders en -moeders ( "For Lovers of God Everywhere") 'n gebed van Kerkvader Augustinus aan.  'n Gebed wat hy gebid het n.a.v. die kosbare tyd wat hy verloor het om homself nie dadelik deur God te laat oorrompel nie. 

"I CAME TO LOVE YOU TOO LATE"

I came to love you too late, Oh Beauty, so ancient and so new. 
Yes, I came to love you too late.
What did I know?
You were inside me, and I was out of my body and mind looking for you.
I drove like an ugly madman against the beautiful things and beings you made.
You were inside me, but I was not inside you...
You called to me, you cried to me; 
you broke the bowl of my deafness;
you uncovered my beams and threw them at me;
you rejected my blindness;
you blew a fragrant wind on my, and I sucked in my breath and wanted you;
I tasted you
and now I want you as I want food and water;
you touched me,
and I have been burning ever since to have your peace.

Oor die lewe van Augustinus was daar vele wenkbroue deur die eeue gelig:  'n man wat laat in sy lewe tot bekering gekom het; 'n man wat homself as 'n hedonis kon beskryf wat elke behoefte van sy impulse bevredig het; wat menige vroue bemin het; ook in sy vroee jeug 'n seun by een van die vroue gehad het.  Hieroor het sy ma Monica, ook as 'n heilige deur die kerk verklaar, 'n leeftyd lank gebid.  Denise Levertov skryf oor Augustinus se soeke na God en herinner haar lesers dat dit eintlik God is wat Augustinus reeds gevind het, lank voor Augustinus dit besef het (... of soos Pascal dit beskryf het:  "You would not seek Me if you did not already possess Me."

FOR THE ASKING (Denise Levertov)
Augustine said his soul was a house so cramped God could barely squeeze in.
Knock down the mean partitions, he prayed, so You may enter!
Raise the oppressive ceilings!

Augustine's soul didn't become a mansion large enough to welcome, along with God, the women he'd loved, except for his mother (though one, perhaps, his son's mother, did remain to inhabit a small dark room). God, therefore, would never have felt fully at home as his guest.

Nevertheless, it's clear desire fulfilled itself in the asking,
revealing prayer's dynamic action,
that scoops out channels like water on stone,
or bulds like layers of grainy sediment steadily forming sandstone. 
The walls, with each thought, each feeling, each word he set down, expanded, unnoticed;
the roof rose,
and a skylight opened.

Tuesday, April 9, 2013

DIEPER ... AL DIEPER! EERLIK ... AL EERLIKER! RUIM ... AL RUIMER!

Henry Nouwen skryf in 'n kosbare klein boekie ("Out of Solitude"), 

"Somewhere we know that without a lonely place our lives are in danger.
Somewhere we know that without silence words lose their meaning,
that without listening speaking no longer heals,
that without distance closeness cannot cure. 
Somewhere we know that without a lonely place our actions quickly become empty gestures"

Ons kan ons met die interessantste dinge besighou, sonder dat dit enige betekenis het.  Met hierdie woorde wil Henry Nouwen ons herinner dat 'n "reflekterende" lewe die lewe betekenisvol maak.  Ook glo nogal dat dit een van ons eienskappe is as "imago Deo" ... ons is "soos God" omdat ons kan nadink.  Ons leef nie maar sommer net.  Wat ons doen, weet ons het implikasies.  Daarom dat ons tyd maak vir "peins".  Soos Dawid in 'n Psalm skryf, "as ek snags in my bed u Woord oordink...". 

Hoe bedink ek my lewe, my gedrag, my betekenisvolle bydrae tot die samelewing, my aanddeel aan die herstel van 'n gebroke wereld, as ek nie doelgerig tyd maak om daaroor te dink nie?  Hoe bedink ek die inhoud van my gesprekke as ek nie ook soms die nadenker is van waaroor my geselse gaan nie? 

As dit my intense behoefte is om meer ruimte vir God in my lewe te maak, moet ek immers ook nadink oor waar die afwesigheid van God is?  As ek nie 'n oppervlakkige lewe wil leef nie, maar betekenisvoller, dan sal ek my leefstyl en my gewoontes moet bedink.  As ek eerliker voor God ("coram Dei") wil leef, moet ek ook bereid wees om die bedrieglikhede te ontmasker wat ek as waarheid aanhang. 

Die woestynvaders het geglo dat die mens wat kies om nouer saam met God te leef (of wat ons ook sou kon noem, 'n lewe met al meer ruimte vir God; 'n lewe eerlik geleef voor God, of bloot geloofsverdieping) net met drie goed te make het,

1)  waar jy ook al gaan, hou God in gedagte
2) waarmee jy jou ook al besig hou, hou God se riglyne in gedagte
3) waar jy ook al oor bly, bly daar en moenie te gou, te haastig, wil weggaan nie.

Jy kan dus meer ruimte vir God in jou lewe maak, deur meer bewustelik bewus te wees dat jou ganse lewe binne die teenwoordigheid van God geleef word; dat jou keuse hoe om te leef, volgens 'n riglyn van "Wees lief vir God; wees lief vir jou medemens; en wees lief vir jouself", en dat 'n lewe van geduldige afwagting, stille luister, 'n lewe wat nie oorvol gemaak word deur oppervlakkige sleur nie, 'n lewe van nadenke moontlik maak.

Friday, April 5, 2013

"In die geselskap van Stilte"

 As iemand ‘n handleiding oor jou lewe sou skryf, watter beginsels sou hulle as die belangrikste beskou as “raad” aan ander oor hoe om “Die Kuns van Leef” te bemeester?
Dalk sou ek dit veel eenvoudiger vir myself kon stel:  watter gewoontes oefen ek in om van ‘n “gewone lewe” ‘n “vervullende lewe” te maak?  Iets wat ek al oor en oor geleer het, is dat ‘n mense wat ‘n betekenisvolle leef, dit nie maar net aan toeval oorlaat nie.  Dit is waar:  my ingesteldheid teenoor die lewe bepaal hoe my lewe “word”.  Ek het nie noodwendig beheer oor die gebeure nie, maar hoe ek my daaglikse gedagtes en emosies, verantwoordelikheid en roeping nakom, bepaal hoe ek op die gebeure reageer.  En dit vorm die tipe mens wat ek ís. 
Die Regula van Benediktus sou eenvoudig opgesom kon word as Riglyne om die Lewenskuns in te oefen. 
• As dit nie reeds doen nie, begin met die gewoonte om elke dag ‘n gebed te bid.  Of dalk elke dag ‘n Psalm op te lees.  Jy kan selfs net een Psalm per week lees.  Hou dit so eenvoudig moontlik, maar so gereeld moontlik.  Jy sou met ‘n gewoonte kon begin om ‘n gebed op jou rekenaar se sleutelbord te plak, sodat jy elke oggend, voordat jy die rekenaar aanskakel, daardie gebed lees. 
• Vind ‘n geestelike vriend(in), ‘n spirituele begeleier of ‘n mentor … iemand vir wie jy respek het, sodat jy met daardie persoon kan gesels om seker te maak jy mislei jou nie oor jou lewe nie.  Iemand wat vir jou die “regte” tipe vrae vra.  (Daar is dalk selfs iemand in die Formatio-groep wat jy wil vra om jou een maal ‘n week te begelei…).
 • ‘n Gelowige kan selde ‘n verdiepte lewe leef sonder die teenwoordigheid van ander gelowiges se invloed in jou lewe.  Op watter manier sou jy gereelde kontak met mense kon hê (bv eenmaal ‘n maand saam ‘n eenvoudige aandete eet en saam mediteer).  Die gereelde ritme daarvan is belangriker as die spyskaart!  
• Vind vir jou plekke in jou dag (al is dit bloot om sonder jou motorradio aan te ry) waar jy kan stilword.  (Die petrolprys dwing my deesdae om stadiger te ry … maar ek maak dit ook ‘n doelbewuste keuse om “stadiger” te leef).  Soos ‘n Benediktus-wyse eenmaal geskryf het:  “Speed and noise are the two greatest obstacles to a contemplative life so eliminating as much of either of these as possible will definitely help you as you move toward a greater sense of being “alone with the Alone.”

Wednesday, March 27, 2013

DOEN DIE NEDERIGE WERK

"'n Oppersaal.  Aand.  Twaalf manne, net soos hulle van die straat ingekom het, wag op die maaltyd.  Moeg, honger, vuil.  Wat hulle nou kort, is 'n slaaf wat met 'n skottel water van die een na die ander gaan en voete was.  Maar daar is nie een nie.  Dan maak die Rabbi 'n handdoek om hom vas en doen juis dit:  Hy gaan van een paar stowwerige voete na die volgende en was hulle. 

 'n Ongemaklike swye, totdat een protesteer...

'n Mens mis die sin van wat hier gebeur as jy net van beskeidenheid en saaklikheid praat.  In hierdie enkele, sigbare teken verbeeld Christus sy hele aardse lewe:  een met gesag, buigend voor hulle wat afhanklik is en bedreig word. 

Die Grote voor die Kleine.

Dis steeds die model vir die mens:  wat dwaas lyk, wat vloek teen alle gevoel vir rang en selfagting, moet gedoen word ter wille van die vrede wat dit bring.  Vrede onder die mense begin nie waar een die mag het om die stryd te smoor nie, maar daar waar een van sy eer afsien.  Hoe vollediger hy dit regkry, des te groter sal die vrede wees wat van hom uitgaan."

Jorg Zink se nadenke oor Jesus wat "laag neerbuig" (uit "Pad na die Gebed") is dalk ons enigste gedagtes wat ons in hierdie Paastyd hoef te koester:  "Die Grote voor die kleine".

Die eerste tree, Here,
loop ek agter U aan
en kyk wat U doen.

U het nie mag gesoek nie,
nie rykdom
of byval nie.
U is die gestalte van 'n nederige,
misverstaan en verag.
Hulle het oor U die kop geskud,
hulle het agter die hand oor U gepraat.
Hulle meen U is gevaarlik...
en U doodgemaak.

My eer, Here,
is die kiem van die tweedrag
tussen my en die mense.
My trots is die kiem van haat.
Maar u kniel voor my met U handdoek om U lyf...

Ek is nog maar aan die begin,
nog besig met die eerste tree.
Nou reeds vrees ek vir my reputasie
dat ek verag mag word.
Neem my hierdie tree met U saam
dat ek deur U vry leef.

Here, U buig U voor my.
Ek buig
voor die geheimenis van u pad

Friday, March 15, 2013

PAASFEES: GEREEDMAAK VIR DIE REIS

Ek wonder in hierdie tyd dikwels oor Pase.  Dalk verstaan ons nie Paasfees as ons nie die Pasga-storie altyd saam daarmee lees nie.  Nie Pasga as “die fees  van die lam” nie, maar eerder Pasga as die “gereedmaak vir die reis die woestyn in”.  Dit tref my toe ek saam met die bybelstudiegroep gister die gedeelte lees in Eksodus oor die voorbereiding vir Pasga.  Vir sewe dae lank moet hulle ongesuurde brood eet.  Asof die “gestrooptheid van dieët” met die ongerysde brood nie genoeg is nie, moet hulle die hele nag – ter voorbereiding van die Pasga – nie slaap nie (“vas van rus”?)  Die gebraaide lam, wat saam met die ongesuurde brood en bitter kruie geëet moet word, moet “haastig geëet word, aangetrek vir die reis, skoene aan die voete en kierie in die hand.  Dit is die paasfees van die Here” (Eks 12:11).

Ek verwonder my hoe ons christene van Paasfees ‘n ander tipe fees gaan maak het as die oorspronklike “Fees van Eenvoud”.  Vir die Jode was dit die begin van ‘n intog in die woestyn.  Die woestyn as gestrooptheid.  Dus, die “Fees van Stroping”!  Jy los alles wat jou kan verhinder agter, en jy gaan, sonder bagasie, op die Nuwe Reis. Onbekendheid tegemoet.

Ek wonder waar het die moderne mens haar hunkering na eenvoud verloor?  Want dit lyk asof dit nog altyd deel van menswees was.  Om die waarheid te sê, ek het dit selfs in die Dhammapada (die Boeddhistiese wysheidsteks) raakgelees:  
Let us live most happily, possessing nothing, let us feed on joy, like
 the radiant gods”. 

Alle godsdienste – nie net die christelike geloof nie - vier eenvoud! 

Waar het ons die pad byster geraak?  Ons mense van vandag?  Ons vier verslawing (...ons noem dit net nie verslawing nie!) 

Dan weet ek dat my eie soeke na eenvoud ook my vergrootglas is op die manier hoe ek my eie lewe inrig!

Friday, March 8, 2013

NADENKE AS 'N GELOOFSGEWOONTE

Dit is toe nie Die Heilige Ignatius van Lyola se woorde nie.  Nou toe nou.  Dis toe al die tyd Sokrates se wysheid.  Of was dit nou Plato wat Sokrates se wysheid aangehaal het...  En toe later Ignatius wat Sokrates (of Plato) aangehaal het...  Ek besef net, mag dit 'n wysheid word wat so ingeoefen word in my eie lewe, dat dit "my" wysheid word.  "'n Lewe wat nie in nadenke geleef word nie, is nie die moeite werd om geleef te word nie".

Daar is verskeie variasies op hierdie tema... "Die mens wat die verlede vergeet, is gedoem om die verlede te herhaal". 

Ek kan begryp waarom Ignatius sy mede-geloofsreisigers aangemoedig het om hulle lewens te bedink.  Hoe sal 'n mens God in die lewe raaksien, as jy nie God-in-jou-lewe bedink nie?  As ek die Bybel reg verstaan, lyk dit asof Jesus juis mense wou herinner dat die Godheid op ander plekke sigbaar gaan wees as waar ons dit vanselfsprekend sou verwag (gaan lees maar Matt 25).  Ek begryp ook waarom die Psalmdigter bid, "weerhou my van 'n nuttelose lewe; laat my leef op die weg wat U aanwys" (Ps 119:37).  Dan moet ek myself tog afvra, hoe gaan ek weet of my lewe geleef word "op die weg wat U aanwys"; as ek "Die Weg" nie bedink nie?

Woorde soos "peins" ... "bedink" ... "mediteer" ... is selde in die woordeskat van haastige mense!  "Stilword" en "tot bedaring kom" is selde 'n aktiwiteit hoog op die aktiwiteitslys van besige mense.   Ek besef skielik hoe belangrik die woord "onthou" in die Bybel is.  As jy "terugdink" gaan jy kan "onthou". "Terugdink" en "nuutdink" is waarskynlik in Bybelse terme sinonieme.  'n Terugblik gee nuwe perspektief.

Daar is beslis ook 'n verskil tussen "nadenke" en "verknogtheid".  Ignatius (en sekerlik Sokrates ook) sou daarmee saamstem.  Nadenke vir Ignatius was nie om vas te hou aan die verlede nie.  Nadenke, as 'n geloofsgewoonte, is om die verlede te bedink as 'n sleutel om vandag anders te kan leef.

Daar is nog 3 weke oor voor Pase.  Hierdie 3 weke is vir my "nadink"-tyd.  In hierdie 3 weke wil ek 3 vrae inoefen:  die "Gods-vraag" (waar sien ek God in my lewe?); die "Self"-vraag (hoe het God my bedoel om te wees?) en die "skeppings-vraag" (waarom is ek nou, op hierdie spesifieke tyd van my lewe, op hierdie spesifieke plek, tussen hierdie spesifieke mense rondom my?)

Lydenstyd is "nadink"-tyd.  Of dit nou Sokrates was wat die wysheid uitgedink het, en of dit Ignatius is wat 'n paar eeue later mense weer daaraan herinner het, dit is om't ewe.  Die vraag is of dit my geloofswysheid gaan word!

Wednesday, February 27, 2013

Die Lewe in Oorvloed - 'n Lewe van Intimiteit

In 'n lieflike boek van Brian McLaren, "Finding our way again:  The return of the ancient practices", skryf hy

"The Ancient Way is about joining God in the spending of every day".

Bloot dit!  Niks meer nie.  Niks minder nie. 

Om die ruimte wat God in jou lewe inneem al meer te vergroot, gaan nie oor 'n "godsdienstiger" lewe nie.   Dit gaan bloot oor 'n mens wat al intenser leer om die lewe ten volle te leef.  Geloofsdissiplines help jou om die lewe wat "in oorvloed" aan jou gegee is (Joh 10), in oorvloed te leef.   Oorvloed vir 'n 21ste eeuse gesekulariseerde mens het gewis 'n heel ander betekenis as wat oorvloed vir die vroee Christendom gehad het. Oorvloed sal ons selde meet aan die maatstaf van "al intiemer met God".  En tog is dit Jesus se bedoeling.  Om 'n lewe te kan leef, al nader aan God. 

Een van die mooiste gebede wat ek ooit teegekom het, kom uit die mond van vroeg 8ste eeuse Sufi mistikus, 'n vrou met die naam van Rabi'a al Adawiya. Elke keer as ek hierdie gebed lees, weet ek, dis hoe oorvloed verstaan moet word.  Ek glo dat dit selfs die enigste gebed is wat iemand hoef te bid wat doelbewus en doelgerig geloofsgewoontes wil inoefen om groter en meer ruimte vir die Goddelike in hul lewe te wil maak.  Nie meer van enige iets anders behalwe die "sug" na God.

"As ek U lief het uit vrees vir die hel, weerhou my dan nie van die hel...
As ek U lief het uit hoop vir die paradys, weerhou my die paradys...
 As ek U lief het ter wille van U self, weerhou dan tog nie U ewige skoonheid van my nie".

As ek God leer ken, met geen ander motief as God self nie ... as ek meer ruimte maak vir God in my lewe, met geen ander verwagting as dat God se teenwoordigheid groter word nie ... as ek geloofsgewoontes wil inoefen, met geen ander verwagting as om meer van God in die alledaagse te ervaar nie ... dan ... alleen dan ... begin die "oorvloed van die lewe" sin maak.  

Wednesday, February 20, 2013

Om te word wat jy bedoel is om te wees

Waarmee ons ons besig-hou bepaal grootliks wie ons is, of wie ons ook al meer word.   Een van die wysste woorde het ek by ‘n ouer kollega geleer het:   die mens wat jy in jou middeljare is, daardie selfde mens gaan jy wees as jy bejaard is ... net erger!”
Dit is wat ons gewoontes aan ons doen.  Dit maak ons nog meer hoe ons is omdat die gewoonte ons in ‘n patroon ingeoefen het om te wees wat ons vroeër reeds was.  Juis daarom is dit wys om ‘n lewensplan te bedink waarvolgens jy, doelgerig en bewustelik, struktuur aan jou lewe wil gee.  ‘n Plan om jou ou gewoontes (jou “ekkigheid”) voortdurend en in eerlikheid te ontmasker, sodat jy al meer kan word wie jy oorspronklik bedoel is om te wees:  die beeld van God. 

Friday, February 15, 2013

Jou Regula ... Jou Manifesto ... Jou Rankplaat

Op die webblad "Abbey of the Arts" is 'n hulpmiddel wat jou kan help om jou eie Regula te skryf.  Vir die haastiges maak ek sommer 'n beknopte opsomming, maar gaan lees dit gerus op hul webblad (die skakel is heel onder).

1. Hoeveel tyd wil jy op 'n dag/week/maand in jou program inruim vir stilword en luister?  Of dit luister na ander is, na God, na jou binnestem.  Hoe gaan jy die bombardering van klank en stimulasie afskakel om stil te kan word?  Wat maak jy met jou verslaafdheid aan tegnologie; televisie-kyk, ens.
2. Hoe gaan jy in jou lewe "spasie" maak vir "die ander"? Het jy 'n plek waar jy by die nuutmaak van die gemeeskap waarvan jy deel is, betrokke kan raak.  Hoeveel tyd gee jy vir "die ander" in jou week/maand?
3. Hoeveel ruim jy tyd in jou lewe in vir "sielsgenote"?  Daardie mense na wie jy kan luister omdat hulle wysheid het; daardie mense met wie jy oor die "dieper dinge van die lewe" wil praat?  Daardie mense by wie jy eerlik kan wees? 
4. Kies om "lig te leef".  Lydenstyd is die ideale tyd om na te dink oor jou versamellus en kooplus.  Hoe gaan jy weekliks vrygewigheid inoefen.  Wat gaar jy op waaraan jy verknog is?  Hoe gaan jy loskom daarvan?  Aan wie kan jy jou oormaat gee?

5. Op watter wyse wil jy nadink oor jou gawes?  Hoe bied jy dit vir jou werk, jou gesin, jou gemeenskap aan?
6. Waar maak jy tyd vir tot ruskom?  Is daar in jou dagboek tye ingeskryf vir "tot bedaring kom"?  Het jy 'n afspraak met jouself?  Hoe gereeld?  Is dit die eerste afspraak wat jy kanselleer?

7. Hoeveel tyd maak jy om na te dink oor wie jy is?  Wat in jou lewe wil jy graag verander?  Hoe lyk jou plan om dit te doen?

Jy kan meer hieroor lees by http://abbeyofthearts.com/about/monk-manifesto/

Wednesday, February 13, 2013

Aswoensdag: 'n Nuwe begin

Aswoensdag

Vir die grootste deel van my lewe het ek nie van "aswoensdag" geweet nie.  Van die "Kerklike Jaar" het ek darem geweet (- al is dit 'n term wat ek dalk nie in my woordeskat gehad het nie).  Ek het darem geweet van Kersfees en Pase.  Ek het geweet Pase is "belangriker", maar Kersfees het steeds altyd die opwinding gesteel.  Ek het geweet van Opstandingsondag, maar deur al die dekades was daar meer mense in die erediens op "Goeie Vrydag".  Hoe ouer ek geword het, hoe meer het die betekenis van die Kerklike Jaar (wat by Advent begin - 4 weke voor Kersfees) in my lewe 'n rol begin speel.  Soveel te meer het ek ook die Kerklike Jaar in die ritmes van my lewe begin inbou.  Soos ek die simboliek van die Kerklike Jaar al meer begryp het, het Lydenstyd tog die periode geword wat my lewe waarskynlik die meeste gevorm het - veral as 'n mens 'n paar Paasfese in die noordelike hemisfeer kon deurbring.  Die "omgekeerde seisoene" in die suidelike halfrond maak van 'n somerse Kersfees vanselfsprekend vir ons 'n meer vierende tyd.  Maar as jy eenmaal Paasfees in die noorde kon beleef, die ontploffing van groen blare en goudgeel affodille in parke sien, dan verstaan 'n mens hierdie periode in die Kerklike Jaar heeltemal anders.  Ons noem die sewe weke voor Pase "Lydenstyd".  In die oud-Engels is die woord (wat vandag vir almal van ons steeds bekend is), "Lent".  Maar hoeveel van ons hoor die woord "Lente" in "Lent".  Dis inderdaad wat met "Lent" bedoel word.  Hoeveel mense in die suidelike hemisfeer sal onmiddellik die assosiasie van "Lente" met die woord "Lydenstyd" maak?  

As ons egter hierdie verband miskyk, dan sal ons ook die betekenis van Aswoensdag miskyk.  Aswoensdag is die begin van die belangrike "40 dae"-simbool wat dwarsdeur die Bybel 'n rol speel.  In hierdie geval begin die 40 dae-aftelling vanjaar vandag, 13 Februarie en eindig op PalmSondag (24 Maart), die begin van die Heilige Week (Jesus se laaste week in Jerusalem) voor die Vrydag se kruisgebeure.  Dit is die laaste 40 dae van die winter, voor die Nuwe Lewe ("Lent") gaan aanbreek. Dit is die 40 dae wat simbolies Jesus se beproewing in die woestyn uitbeeld.  Die geloofsdissiplines wat deur die eeue ingeoefen is in hierdie 40-dae periode is die dissipline van "vas"; "gebed" en "vrygewigheid".  Dit is 'n 40-dae periode waar die dissipline van "selfondersoek" (deesdae praat ons van introspeksie) beoefen word.  Dit is 'n 40-dae periode waar gelowiges "na binne keer", alvorens die ontploffing van Nuwe Lewe aanbreek.  (Dink ook aan Ef 1:18, wanneer jy hierdie "ontploffing" van Nuwe Lewe bedink).

Aswoensdag is die 40 dae-voor-Lent(e). 
'n Periode van nadenke.
'n Periode van ruimte maak vir God.


Om te vas beteken dat jy die fokus wegdraai van die vervulling van jou eie behoeftes ... daarmee maak jy groter ruimte vir God - jy leer wat "honger na God" beteken.
Om vrygewig te wees beteken dat jy die fokus wegdraai van jou eie versamellus ... daarmee maak jy groter ruimte vir God - jy leer om "met God se hande" te versorg.
Om te bid beteken dat jy die fokus wegdraai van die leuen dat jy vir jou eie lewe verantwoordelik is ... daarmee maak jy groter ruimte vir God - jy leer om van God afhanklik te wees.

 Dit is waaroor Aswoensdag gaan! Dis waaroor die periode gaan wat met Aswoensdag ingelei word.  'n Periode van selfondersoek, bely, terugdraai.  'n Periode van erkenning, eerlikheid en nuwe insig. 

Dis hoe 'n mens begin om ruimte vir God te maak.

Tuesday, February 12, 2013

Geloofsdissiplines en geloofstipes

Elkeen van ons het 'n spesifieke persoonlikheidstipe.  Noem dit die "dominante" manier hoe jy "gewoonlik" optree.  Sommige mense gesels spontaan met vreemdelinge, ander nie.  Sommige voel uitgemergel as hulle die hele dag in mense se geselskap is en moet hulle batterye herhaal deur vir 'n hele ruk hulself van mense af te sonder.  Ander voel weer asof hulle aan onttrekkingsimptome ly as hulle vir 24 uur lank nie gepraat het nie.  Sommige mense neem besluite deur lank daaroor na te dink, hulle is goed voorberei; ander kan weer makliker onder druk 'n besluit neem.  Sommige wil presies weet hoe verloop die vakansieplanne, terwyl ander weer voel dit demp die spontaniteit. 

Hoe sou 'n mens se persoonlikheidstipe jou manier van glo beinvloed?  'n Ander vraag is of elkeen van ons 'n spesifieke "geloofstipe" het, soos wat ons ook 'n persoonlikheidstipe het?  Een van die redes waarom ons hierdie vraag moet kan beantwoord, is omdat dit ons ook help om ons tekortkominge raak te sien.  As ek "dominant" iemand is wat baie vinnig 'n besluit kan neem (... dit word m.a.w as 'n sterkpunt beskou), dan sal ek weet, my tekortkoming is dat ek, vanwee my vinnige besluitneming, ek nie noodwendig al die feite in agneem nie.  Daarom het ek mense nodig wat my net so bietjie kan "terughou" sodat ons saam net oor al die moontlikhede gesels.  My sterkpunt is dus ook my swakpunt ... afhangende van die situasie.

Dit is in my "geloofstipe" ook waar.  As ek iemand is wat altyd net oor God dink vanuit 'n baie rasionele invalshoek, dan gaan ek byvoorbeeld vir mense baie maklik dogmatiese kwessies kan verduidelik ... maar gaan ek vanselfsprekend verstaan as iemand van "'n ervaring" met God praat?  Dit waarin ek sterk is, impliseer altyd weer 'n leemte op 'n ander terrein ... 'n swakplek.  Geloofsontwikkeling wil my help om my sterkpunte te waardeer, en my swakpunte te ontwikkel. 

As ons glo dat ons al meer in die "die gestalte van Jesus" verander word, dan sal ons weet dat ons nie maar tevrede kan wees met net ons sterkpunte, sonder om nie gereeld die vergrootglas ook te plaas op dit wat ontluikend in ons is ... of dit wat ons selfs moet verander nie.

'n Teoloog, Christian Schwarz, het hierdie geloofstipes goed uiteengesit.  Om te weet watter tipe jy is, moet jy die geloofsvraelys invul en jouself op die grafiek inteken.  Trek 'n driehoek op jou grafiek waar jy die driepunte met mekaar verbind.  Jy sal waarskynlik vind dat daar een van die 3 is wat 'n groter getal het as die ander 2.

Hier is 'n beknopte interpretasie.  Die kleure het simboliese waarde:  groen dui op God as Skepper; Rooi dui op God as Verlosser (die kruisdood van Jesus) en Blou dui op God as Gees, "wat waai soos die wind".