Wednesday, April 20, 2011

GELOOFSGEWOONTES VIR PASE

‘n Lewe sonder rituele is soos ‘n sonsondergang sonder kleur.  Rituele gaan oor ráák-sien:  om te weet dat daar ‘n besondere waardevolle oomblik is wat – herhaaldelik – gevier moet word.  Omdat die waardevolle nooit vergeet mag word nie, skep ons rituele om ons daaraan te herinner.  Rituele het te make met die viering van ‘n Ritme-van-Bekendheid.  Dit laat die deelnemers aan daardie rituele voel, “hier is ek tuis”.  Die ritueel het net betekenis as jy die groter prentjie van die ritueel leer waardeer. 
‘n Ritueel is meer as maar net ‘n gewoonte.  Dit is inderdaad ‘n gewoonte … maar ‘n gewoonte wat ‘n simboliese betekenis kry.  Dalk maar wat St Benedictus ook vir ons wou leer met sy Regula:  gewoontes wat so ingeoefen word, tot dit later deel van ons lewe is, en nie meer gewoonte is nie, maar simboliek.
(Hier het ek skielik ‘n stukkie nostalgie wat dan nou vir my sommer broos laat voel … ‘n voorbeeld van ‘n gewoonte-met-betekenis:  vir jare het ek in Port Elizabeth gebly en my ouers in Welkom.  Wanneer ek huistoe verlang het, het ek altyd gesorg dat ek, laatmiddag-skraps-voor-ses, gebel het.  Die telefoon was in die voorportaal, my ma sou soms al by die telefoon sit, wetend dat ek gaan bel.  Al ditjies-datjies-rig, en dan gebeur die groot oomblik:  presies om 6 sou die groot ou “Grand Pa” klok sy ou wysie uitbeur.  Ses slae word afgeslaan.  En dan die onverklaarbare misterie:  as die klok klaar geslaan het, het die hadida’s geskreeu.  Sowaar!   Vandag nog, waar ek ook al ‘n ou regop staanhorlosie hoor, is dit vir my my “ses-uur”.  Elke keer as ek hadida’s hoor, voel ek verlang.  En bel ek.  Want dit is die mense aan wie ek behoort.)
Wat binne die gereformeerde tradisie laat ons voel dat ons “behoort”?  Ons is arm in vergelyking met die ritueelrykheid van die Katolieke of Ortodokse christene.   Die Gereformeerde teologie het ‘n waardevolle bydrae gebring, maar o weë, met ons gereformeerde soberheid het ons onsself van soveel visuele stimilusse gestroop.  Ons het so min gewoontes-gelaai-met-betekenis:  die liturgie moet elke Sondag “verrassend anders” wees (“want netnou doen mense iets uit gewoonte”).  Daar is geen voorgeskrewe rituele nie, nie eers tydens so ‘n ryke tyd soos Lydenstyd nie, want helaas, ons is individualiste, ons word nie maklik voorgeskryf nie.
So lees ek dat Katolieke christene, vandat hulle 14 jaar oud is, tydens Lydenstyd al 7 Vrydae vas (per implikasie ‘n vleislose dieët volg).  Goeie Vrydag is, dwarsdeur die eeue, gesien as ‘n dag van vas.  ‘n Dag wat in stilte deurgebring moes word.  Die Goeie Vrydag-vas is gebreek met ‘n gemeenskaplike ete.  Enkellopendes, weduwees, wewenaars; bejaardes, kind en kraai is na gesinne genooi … niemand eet alleen nie.   Want die Storie van die Kruis, is die Storie van die Kerk, is die Storie van Gemeenskap.  Wat ‘n ritueel!
Watter rituele volg jy (en jou gesin, dalk) in hierdie tyd?  Iets wat jaar na jaar gedoen word, nie omdat dit net ‘n gewoonte is nie, maar omdat dit ‘n gewoonte-met-betekenis is.  Volg ek so ‘n ritueel?  Ja, tog wel.  Jaar na jaar, in Heilige Week, luister ek, aand na aand, na een volle Requiem – met die Duitse en Latynse teks wat woord vir woord gevolg (en soms selfs met ‘n woordeboek aangevul moet word).  Verlede jaar was dit Brahms se Duitse Requiem. Oor en oor en oor.  Hierdie jaar is dit Gardener s’n.  Swaar, donker moeilike musiek.  Soos wat Lydenstyd is!  Maar as ek deur die res van die jaar ooit die musiek oor Classic FM hoor, dan “voel” ek Paasfees.   Ek lees jaar na jaar een spesifieke boek … dieselfde boek … weer van voor tot agter.  Dit is my “Paasfees-boek”.   En ek gaan dit doen tot ek nie meer ‘n boek kan vashou nie.  As ek deur die loop van die jaar bemoediging nodig het, haal ek soms die boek uit my boekrak.  Nie om te lees nie.  Om vas te hou.  Al is die boek al voos vasgehou.  ‘n Gewoonte-met-betekenis vir tye wanneer die “betekenis-van-my-lewe” vol vraagtekens is.
En nou vra ek jou:  hoe vier jy Pase?  Wat is jou Paas-Regula Ek sal graag wil hoor.  Dalk het jy ‘n ritueel wat aansteeklik is dat ander jou daarin wil na-doen.  Vertel ons…

Friday, April 15, 2011

EENVOUD: OM TE LAAT GAAN

Om ‘n lewe van eenvoud te leef, impliseer dat ‘n mens dinge moet laat gaan.  Dit is nie net ons vashou aan ons besittings, wat moet laat gaan nie, dit is ook ons idée dat wat ons besit óns s’n is, wat ons moet laat vaar.

So stuur iemand vir my die volgende meditasie aan, wat heel gepas is by geloofsdissiplines van “Dankbaarheid; Vas; Eenvoud”.

Om te laat gaan ...
  
Daar word vertel dat, terwyl hy besig was om die Skrif te lees, die woestynvader, Antonie, tot die oortuiging gekom het dat hy alles wat hy besit, moet verkoop en na die woestyn toe moet gaan en God moet soek.

Om na ‘die woestyn’ toe te gaan, beteken dikwels opoffering. Dit beteken dat jy ‘n klomp dinge sal agterlaat, of dit doodgewoon sal laat gaan. Jesus het dit meermale van sy dissipels gevra, of van mense wat Hy geroep het om Hom te volg. Of dit nou nette was, of bote, huise, families, …

Soms het Hy hulle gevra om vir ‘n spesifieke tydperk van hulle lewens hierdie opoffering te maak, en soms was dit ‘n permanente ‘afsien-van’ of ‘laat-gaan’. By geleentheid het Jesus van sy dissipels gevra dat hulle hul bekommernisse en besorgdhede met betrekking tot kos en klere moet laat gaan (Matteus 6:25-33). By ‘n ander geleentheid het Hy hulle gevra om hul verknogdheid aan hulle reputasie en status te laat gaan  (Lukas 6:22-23). Die moeilikste van alles was egter toe Jesus van hulle vra om hulleself prys te gee, “hulleself te verloën, hulle kruis op te neem, en Hom te volg” (Markus 8:34).

Die vermoë om dit waarop jy jou lewe tot dusver gebou het, te laat gaan, is ‘n vereiste om ‘n volgeling van Jesus te wees. In die Christelike tradisie word daarna verwys as ‘om rein van hart te wees’. Dit beteken dat jy jouself ondubbelsinnig en algeheel aan God toewy. Jy het niks anders in jou hart as net God nie.

Ons ego word so maklik gevorm deur mense of dinge. Dit word so maklik verknog aan tye of plekke of reputasie, status, beroep, selfs bedieninge, idees, suksesse. Dit word die kettings wat ons bind, en wat ons weerhou daarvan om Jesus te kan volg.

Friday, April 8, 2011

Wanneer die alledaagse die besondere word.

Ek het toevallig vanoggend ‘n opmerking teenoor kollega, Pieter, gemaak waaroor ek sal moet nadink:  As ek dan die ‘Formatio’-kursus vir 2011 ontwikkel het, bloot vir die geestelike ontwaking wat ek daardeur ervaar, dan skuld ek al my ‘Formatio’-vriende ‘n groot geskenk”. 
Dit is werklik hoe ek voel:  as júlle ingeskryf het vir ‘n kursus … wat my dwing om weekliks baie hieroor te lees… en wat my, deur die baie leeswerk, by ‘n spirituele verdieping bry, dan speel julle, elkeen, ‘n groot rol in my eie geestelike storie.  Dalk is dit van almal van ons waar:  méér mense speel ‘n rol in ons lewenstorie as wie ons erkenning voor gee.
Om te dink dat mense wat eeue voor ons geleef het, ons - wat na hulle kom – se lewens so kan raak!  Die bronne wat geloofsversterkend inwerk op ons lewe is legio!
Só laai ek die kleine juweelboekie van ene Lauren Winner op my kindle af:  Mudhouse Sabbath.  Nóg een van die vele boeke wat ek maandeliks aankoop om my voor te berei vir die geloofsdissiplines.  Verlede Vrydagmiddag sit-lê ek op die bed, verslind omtrent elke bladsy.  Dit wat ek in die bladsye lees, dwing my om twee vriendinne te bel:  “kom eet vanaand by my”.  Hoekom?  Want die Sabbat word nie alleen deurgebring nie!  So eenvoudig soos dit!
Soms het ‘n mens stilte en afsondering meer nodig, sodat jy juis, daarna, kan opstaan en die telefoon oplig:  ek nooi jou in my lewe in.  Stilte en afsondering, ook die sabbatsviering (wat die simbool van afsondering is) word die brug wat ons weer help om ons lewe met ander mense te vul.
Hierdie vrou se eenvoudige skryfstyl roer my siel.  Sy maak van elke ding in haar dag ‘n geestelike dissipline.  So word die enkele psalm wat sy lees (en bokant haar voordeur op die kosyn plak) byvoorbeeld die stimulus vir ‘n geestelike ervaring:  “…making Christian space out of an ordinary apartment.” 
Alles wat ons deur Formatio leer het dit as die doelwit:  om van die alledaagse ‘n besondere te maak.  En om daardie ruimte so te leef dat dit die karakter dra van leef-in-die-teenwoordgheid-van-God.
Jy sluit hierdie naweek af met die “laaste” nadenke oor die geloofsdissiplines van stilte, afsondering en Sabbatsviering.  Mag dit vir jou dan, hierdie naweek ook wees:  “this is the beginning of making Christian space out of (the) ordinary …”.